Kategorieë
Nuusbrief
Louise Viljoen is haar naam te danke aan die dorpie Louis Trichardt waar sy gebore is. Haar ouers moes in die ry oppad hospitaal toe op ʼn naam vir haar besluit. Met dié flits die dorp se naam op ʼn padbordjie verby... Louise kon lees lank voor sy skool toe gegaan het. Haar neus was gedurig in boeke en dit was nie lank nie, toe byt die skryfgogga haar. Sy was skaars agt jaar oud toe wen sy haar eerste prys, ʼn duur Parker-pen, vir ʼn storietjie wat sy oor ʼn kaggelvuur geskryf het. Op 14 het sy haar heel eerste wetenskapfiksie-verhaal, Vir jou, Cunda, met die hand geskryf – twee dik Croxley boeke vol heerlike avontuur in die ruimte. Haar gunstelingskrywer op daardie stadium was Leon Rousseau. Louise het sy Fritz Deelman-reeks verslind. Fritz Deelman en die skepe van Mars was haar gunstelingboek gevolg deur Fritz Deelman en die Groen Dood. Dit inspireer haar om ook ʼn roman wat in die Amasone afspeel, op 15-jarige ouderdom te skryf. Sy het nogsteeds die handgeskrewe manuskripte. Lux.Verbi.BM publiseer later jare Louise se geestelike roman Vergifnis. Dié verhaal handel oor ʼn swaardvegter wat in die Colosseum ʼn eed sweer om die moorde op sy mense te wreek, maar dan vind hy hom onverwags op ʼn lewensreis wat hom leer om sy vyande te vergewe. Louise is vandag ʼn gevestigde skrywer met verskeie skryfsuksesse agter haar naam. Sy wen in 2004 die ope afdeling van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se kortverhaalwedstryd. Sy dig, blog, skryf kortverhale, artikels en lirieke. Sy het al aan die 300 artikels vir verskeie webtuistes geskryf. Sy word ook aangewys as Media24 se 2014 wenner vir vryskut burgerjoernalistiek. Sy werk tans as vryskutskrywer, proefleser, redigeerder en vertaler. Sy doen ook soms spookskryfwerk en help skrywers om hulle manuskripte te ontwikkel. Thompson Boekdrukkery gee in 2015 Die Roofdier uit. Dis wetenskapfiksie met ʼn sterk menslike element. Louise slaag daarin om wetenskapfiksie só oortuigend oor te dra, dat dit normaal en alledaags voorkom. Afrifiksie hoop om nog baie meer wetenskapfiksie en fantasieverhale deur Louise Viljoen te lees.
Volg ons